Rooidak klas van
1963 hou reunie
Barend
Olivier
Hoërskool Boshof het gedurende die naweek van 7 Oktober
2011 as gasheer vir die Rooidak Matriekklas van 1963 opgetree. Díe groep het
van Vrydagmiddag af op die Gasteplaas Bordeaux, buite Boshof, aangekom om ou
vriendskappe van 48 jaar gelede te hernu. Maar dit was toe nie sommer met die
eerste oogopslag weet-wie-is-nou-regtig-wie nie! Sommige maats was makliker
uitkenbaar as andere, maar Borsel van Sittert moes homself 'n paar keer self
identifiseer om alle onsekerheid uit die weg te ruim!
Die Skoolhoof, Mnr. Niewenhuizen het ons groep heerlik
bederf: Ons is Saterdagoggend skuins voor 10:00 met 'n skoolbussie op die plaas
opgelaai en skool-toe geneem waar ons 'n kort fotosessie kon hê. Daarna het hy
ons in die personeelkamer toegespreek en ingelig oor die skool se prestasies die
afgelope jare.
Hierna het ons verversings geniet en is ons op 'n begeleide
toer deur die skool geneem. Hiertydens kon ons onself vergewis van die groei in
klaskamer geriewe, goed toegeruste leerder lokale, rekenaar toerusting en ook
waarneem hoe netjies klaskamers en die skool terrein gehou word. Indrukwekkend
was vir ons die feit dat die skool steeds leerlinge vanaf al die provinsies in
die land trek en selfs met eie skoolbusse na en van die skool vervoer word!
Inderdaad 'n voortsetting van die feit dat soos Rooidak destyds, Hoërskool
Boshof steeds die leier-skool in
ons streek is.
Saterdagaand het ons die heerlike en sappig voorbereide
spitbraai wat vir ons gereël was terdeë geniet. Daar is tot laatnag gekuier en
talle staaltjies is oorvertel en ons kon opnuut weer die verlede en die
buitengewoon groot voorreg om Oud-Rooidakkers te wees, beleef, uitrek en geniet.
Oor die verloop van gebeure, vertellings en belewenisse gedurende hierdie
voorreg-naweek in ons lewens, kon die strewe van ons skool en uitstaande
onderwys instelling duidelik waargeneem word in die belewenisse van elkeen wat
dit bygewoon het: Ut Prosim – dat ek tot nut mag wees!
Mooiloop en dankie aan elkeen van julle!
Van links,
agter: Koos Eloff, Eddie Barlow, Sybrand van Sittert, Le Roux Botha, Alet van
Wyk, Barend Olivier, Isak Pretorius, Elsa van Zyl-Smit, Martie Steyn
Voor: Cas Badenhorst, Ettienne du Plessis, Gerda du Plessis, Thelma Smit, Marié Scheepers.