Perde uithouritnuus

Die jaar is al halfpad en daar is al verskeie kere aan uithouritte deelgeneem.  Ek doen slegs verslag van die ritte waar ek betrokke was, aangesien ek nie kennis dra van die ander ritte se uitslae nie.

Petrusburg se rit is op Koffiefontein gehou die 19de Maart.  Daar het  Henco du Toit op Hectoria Dakouta 'n 80km gery en voltooi.  Uitzicht Arabierstoetery het twee perde op die baan gehad. Danco Engelbrecht het vir Patyo in die Junior Afdeling gery en hy was eerste in 'n tyd van 3 uur 28 minute. Hy het ook die prys vir die bes-voorbereide perd ontvang.  Carla Badenhorst het Uitzicht Stoetery se ander perd, Maxie gery, en ook eerste plek behaal in die Standaard Gewig afdeling en het ook die prys vir die bes-voorbereide perd ontvang. Haar tyd was ook 3 uur 28 minute.  Hannelie Müller het vir Beauty gery en het die 3de plek in die Standaard Gewigafdeling behaal in 'n tyd van 4 uur 27 minute.

Hannelie Müller op Beauty

 

Henco du Toit op Hectoria Dakouta

Hoopstad se rit is te Bloemhof gehou op 2 April.

Een perd van Uitzicht Arabierperdstoetery het daar gery, maar dié moes ongelukkig na die eerste been onttrek.  Lean Hayes het op Sanjar deelgeneem en Simon Müller het op Beauty die 80km klaargemaak in 'n tyd van 4 uur 50 minute en 2de plek in die Kinderafdeling behaal.  Hierdie rit het op 'n sanderige baan in erge hitte plaasgevind.

  Lean Hayes en Sanjar   Simon Müller op Beauty

Winburg-rit op 30 April.  Verskeie perde en ruiters van Boshof het aan hierdie rit deelgeneem.  Carla Badenhorst het vir Maxie van die Uitzicht Arabierperd Stoetery in 'n 120km deelgeneem en was in 'n tyd van 6 uur en 3 minute eerste in die Standaardgewig afdeling.  Hannelie Müller het op Beauty deelgeneem aan die 80km en het 7de plek gekry in 'n tyd van 4 uur 34 minute. 

Mariëtte Visser en Simone Swart het aan die FEI 120km deelgeneem en het onderskeidelik tweede en derde gekom in die Standaard Afdeling in 'n tyd van 5 uur 56 minute.  Simone Swart het Abri du Plessis se perd, Ramon Nelson gery en het die prys vir Bes-voorbereide Perd gekry.

Boshof twee-dag rit op 13 en 14 Mei

Boshof se rit het weer op Bordeaux plaasgevind en het op 'n nat en baie modderige noot afgeskop. Hennie de Waal het met sy trekker gereed gestaan net om horseboxes wat in die modder vasgeval het op pad na die plaas uit te sleep.

Vrydag, 13 Mei het daar ongeveer 56 perde weggespring, waaronder vier Boshof perde.  Die baan was redelik modderig en soos die dag verloop, het dit baie erger geword en elkeen moes maar oordeelkundig ry in die omstandighede. Sommige perde het op party plekke tot by hul knieë in die modder weggesak.

Danco Engelbrecht het op Sasha gery en die 80km voltooi, Hannelie Müller het op Al-Quine Cherese ook die 80km voltooi.  Mariëtte Visser het die Standaard Afdeling gewen en ook Bes-voorbereide perd vir Seniors gewen.  Simon Müller het op Beauty in 'n tyd 5 uur en 4 minute die Kinderafdeling gewen en het die prys vir Bes-voorbereide perd vir kinders  ontvang.

Saterdagoggend het 60 perde weggespring ten spyte van die modder, want dit het Vrydagnag weer gereën. Sarina van Bergen op Lola van Uitzicht Stoetery, Henco du Toit op Hectoria Dakouta, Conrad du Toit op Hectoria Scorpio en Lean Hayes op Sanjar het almal die 80km gery en voltooi.

Die volgende rit op die kalender is die 3-dag by Fauresmith op 5 tot 7 Julie en ons wil alle ruiters en perde wat daar gaan deelneem, sterkte toewens.

Conrad du Toit op Hectoria Scorpio

Tuisblad