Klas van 1973 hou 40 jaar reunie

Isabel de Kock

  Wat 'n onvergeetlike tydjie was die naweek van 20 tot 22 September 2013 nie vir ons nie!

   Dit was met groot afwagting dat ons mekaar ingewag het Vrydagaand op die plaas van Andrie en Isabel. Wat 'n wonderlike weersiens was dit nie! Ons maats het van heinde en ver gekom, so ver as die Kaap, Natal en die Noordelike Provinsie.  Ons het tot laat nag nog gekuier oor onthou jy nog…?

 Saterdagoggend het ons almal mekaar weer by die skool ontmoet waar die skool ons met heerlike verversings bederf het. Daar het ons lank nog tyd verwyl tussen die klasse, gehoor wat het die afgelope 40 jaar met almal gebeur en nog vir laas gestap tot waar Vastrap en Oranjehof gestaan het. Kostelike staaltjies is daar vertel waar eens iets besonder was. As blyk van waardering dat dit met ons Rooidakskool (Boshof Hoërskool) so goed gaan, het die oud-skoliere besluit om vrywillig elkeen iets by te dra en aan die skool te oorhandig. Daarmee kan die skool dan toerusting vir die gasvryheidstudieklas  aankoop.

  Saterdagmiddag het ons almal weer saam op die plaas gekuier en rugby gekyk, uitsorteer wie intussen vir die Bulle, Stormers of Sharks skree, CHEETAHS BLY KONING! Saterdagaand het ons 'n heerlike spitbraai by Boshof Hotel gehad. Gekuier tot laat-aand met Louw en Anette Kruger (Louw was hoofseun in 1972).  Ongelukkig kon van ander oudskoliere nie die geleentheid bywoon nie.

Sondagoggend het ons heerlike kuier op 'n hoë noot afgesluit met Schalk van Schalkwyk wat die erediens gelei het en wat 'n hoogtepunt vir ons almal was. Na die diens het ons almal saam gaan teedrink in die kerksaal waar Ernest en Elsa Brooks saam met ons gekuier het. Ernest is  'n oud-onderwyser van ons. Tyd vir afskeid neem en groet het toe aangebreek. Dit was met 'n lag en 'n traan dat ons mekaar gegroet het en weer eens wonderlike herinneringe van 'n kosbare naweek gemaak het. Hoop ons sien mekaar gou weer.

Terug na Adresblad