Boshof Brandbeskermingsvereniging hou jaarvergadering

6 Februarie 2014

Die algemene jaarvergadering van Boshof Brandbeskermingsvereniging is onlangs gehou.  Dit wil voorkom asof lede tevrede is dat die bestuur hulle goed van hul taak kwyt en sien nie die nodigheid om insette te kom lewer nie, aangesien die bywoning swak was.

Ongeveer 8100 hektaar weiveld is die afgelope jaar in die distrik deur brande vernietig.  Hoewel daar 'n aantal diere (wild) in die Boshof-Kimberley korridor dood gebrand het, was daar geen ander ongevalle nie.  Twee van die brande is deur weerlig veroorsaak, een deur die nalatige weggooi van 'n sigaretstompie deur 'n werker, een deur 'n motor wat aan die brand geraak het en by die ander word brandstigting vermoed.

Die wet maak dit verpligtend vir grondeienaars om brandstroke te maak en in stand te hou.  Die voordeel om aan die brandbeskermingsvereniging te behoort, is dat daar 'n oorkoepelende brandbestrydingstrategie vir die distrik bepaal kan word waarvolgens dit dan nie noodwendig nodig is vir elke grondeienaar om brandstroke aan te bring nie.  Die vereniging kan ook ingryp indien nie-lede brandstroke wil maak wat moontlik 'n gevaar inhou vir aangrensende eienaars en indien dit nie aan die voorgeskrewe bepalings van die Wet voldoen nie. 

Die Wet plaas verdere verpligtinge op alle grondeienaars en vir lede is daar 'n vergunning en hoef nie daaraan te voldoen nie.  Die Wet skep verder 'n vermoede van nalatigheid en indien 'n veldbrand dus op 'n spesifieke eiendom ontstaan en tot op 'n aangrensende plaas versprei, word dit geag dat die grondeienaar nalatig was totdat die teendeel bewys is. Artikel 34 van die Wet bepaal egter dat hierdie vermoede van nalatighheid nie van toepassing is op 'n lid van die BBV nie juis omdat die vereniging ten doel het om strategies te beplan, oor die nodige middele beskik en die doel het om sodanige brande te bestry.

Verder magtig die Wet ook sekere optrede om brande te bestry en derhalwe kan die vereniging ingryp om ook die eiendom van nie-lede vir daardie doel te betree en skade te beperk.  Die vereniging het derhalwe die fundamentele reg om vergoeding te eis vir die redelike en billike uitgawes in dié verband.   In hierdie verband het die vereniging besluit op 'n minimumkoste van R500 per voertuig, asook 'n bedrag ten opsigte van personeel en toerusting wat gebruik word.   Indien die organisasie Working on Fire ook bystand verleen, sal die grondeienaar weens dieselfde redes verantwoordelik wees vir die redelike en billike koste.
Nie-lede wat dus belang stel om by die vereniging aan te sluit, kan gerus die sekretaresse op 083 487 1233 kontak. Tol du Toit is herkies as voorsitter en as sekretaresse in die plek van Orfie, wat hom nie weer beskikbaar gestel het nie, is Mariëtte de Villiers gekies.

 

 

Terug