Wildboerdery

Daar is tans 11 jag- en gasteplase in Boshof-distrik wat jaarliks ongeveer 3000 besoekers ontvang en die jagbedryf is steeds besig om toe te neem.

Jagplase verskaf gidse en spoorsnyers, afslag en bewerking met koelgeriewe.  Daar is verskeie Taksidermis is in die distrik en ook in die nabygeleŽ Kimberley.

Wildplase beslaan ongeveer 101 587 hektaar  en teen 2 hektaar per eenheid, word ongeveer 50 794 stuks wild aangehou.

As 'n habitatkaart van ons land geteken moet word, sal Boshof geleë wees waar drie plantegroei tipes ontmoet - droë savanne, karoo en grasveld. Dit lei daartoe dat die veld geskik is vir die aanhou van bykans enige soort wild. Afgesien van die talle inheemse klein soogdiere, word springbok, blesbok, rietbok, rooibok, eland, gemsbok, koedoe, ribbok, zebra, buffel, takbok, wilde varke, blou- en swartwildebees, rooihartebees, volstruis, bontebok, oorbietjie, tsessebe njala en lechwe (basterwaterbok) op verskeie plase aangetref - selfs renoster, kameelperd, kameel, leeus en witleeus kom voor. Op sommige plase word met wild geboer ter komplementering van skaap- en beesboerdery.

As jy dus lief is vir wild- of voël-waarneming, sal die meeste van die gasteplase aan al jou behoeftes voldoen, want aan voëllewe is die Boshofomgewing ook baie ryk en kan spog met 'n voëllys van ongeveer 200 verskillende spesies. Daar is, onder andere, die skaars besoekers, Rooibekrenostervoëls, Europese Rooistertjies en Bloukraanvoëls. Boshof word ook elke jaar besoek deur groot swerms Kleinrooi- en kransvalke. Dan is daar ook die talle meesters van die lug: Swart-, Witrug- en Kransaasvoëls en Breëkop- en Witkruisarende te sien.

Boshof Tuisblad ]