Klas van 1961
Die matriekklas van 1961 aan Rooidakskool Boshof het die naweek van 29 April tot 1 Mei 2011 reünie gehou.
Marie Beukes (Otto) skryf soos volg oor die naweek:
Vir jare al het ons
met groot afwagting uitgesien na ons Matriekreünie. Opwindend was dit voorwaar
om op 30 April by die skool te ontmoet.
Nelie, Gwen, Alida
en Connie het saam met my in sub A by Juffrou Linie Serfontein begin. Met die
jare het sommige gegaan en ander het gekom.
Op 'n heerlike
herfsoggend drink ons saam met mnr. Danie Nieuwenhuizen tee. Hy vertel met trots
van die huidige skool. Oor elkeen wat gekom het, is ek so bly. Al die breë
glimlagte getuig van ongekende vreugde.
Ons vertrek per bus
op 'n rit deur die dorp. Die stemming is gemoedelik en vir almal word gewys waar
ons dorpsmeises gebly het. Behalwe Dirk, was omtrent al die seuns destyds in die
koshuis.
By Mocha Java gee
Nelie vir ons boeke en penne. Sy het baie moeite gedoen om 'n boek saam te stel
met ons foto’s en lewensverhale. Almal kuier lekker saam.
Ons geniet aandete
by die Boshof Lodge. Gesprekke word af en toe onderbreek deur 'n luide geskater
en hoe later hoe kwater.
Sondagoggend woon
ons as 'n groep die erediens, wat deur Danie
Groenewald (hoofseun) gelei word, by. My gedagtes gaan ver terug na my
Sondagskooldae en hoe ons later in hierdie kerk lidmate geword het. Na die diens
gaan wys ek vir Adolf my ouers se grafte.. God is Liefde…
By Niël en Alida
drink ons tee. Te gou het die naweek tot 'n einde gekom. Ons is hartseer om
afskeid te neem… elkeen moet nou weer terug na sy eie wêreld, maar ons ou
kennisse sal mekaar nie vergeet nie.
Dankie aan almal
wat gekom het. Dankie aan julle wat gehelp het om ander op te spoor. Dankie aan
Doreen, Danie, Nelie, Alida en Sakkie vir jul aandeel.
Ek dink met deernis
aan elkeen van my klasmaats… ook aan hulle wat nie meer met ons is nie. Vir
ander miskien net nog 'n matriekklas, maar vir my 'n spesiale groep mense –
1961 Matrieks!
Marie Beukes
(Otto).