REÜNIE – KLAS VAN 1971

Rita Wessels

Waar begin mens om die emosies te beskryf wat jy by die herontmoeting met skoolmaats wat jy 40 jaar laas gesien het, ervaar?  Ek het nie woorde daarvoor nie – kan net sê die naweek was absoluut onvergeetlik en al die vooraf moeite en organisasie werd!

Met die weersiens Vrydagaand by die lapa van die hotel het die groot gesels begin, en dit het voortgeduur tot almal Sondag weer gery het.  Dit was asof die tyd wat tussen matriek en nou verloop het, eenvoudig weggeval het.  Ons het mekaar maklik herken – almal het goed “verouder”! – en die naamkaartjies wat Anso gemaak het net vir “ingeval”, was eintlik net nodig vir almal se gades.

Die kuier en gesels het aangehou tot vieruur die oggend, gevolglik was almal maar leepoog tydens die skoolbesoek die Saterdagoggend.  Al die oudleerlinge is beïndruk met die skool soos dit tans is, en het die hoogste waardering daarvoor dat ons Alma Mater steeds maar is soos dit in ons skooldae was.  Die busrit deur die dorp was ook 'n groot lekkerte en het heelwat nostalgie veroorsaak soos ou bekende bakens opgesoek is.  Die sloop van Vastrap is en bly vir almal 'n hartseer saak – Vastrap was immers 'n monument in ons skoollewens!

Middagete en verder kuier was by die Meule-gebou, en so deur die loop van die middag het een na die ander stil-stil verdwyn onder die voorwendsel

dat hulle gaan rugby kyk, maar meeste het maar 'n uiltjie gaan knip om vars te wees vir die volgende kuier-sessie.

Saterdagaand het ons in die Meule-gebou 'n heerlike dans en spitbraai gehou!  'n Vergete herinnering wat skielik weer helder in ons gedagtes gekom het, was die sokkies wat Paal Pretorius aan die einde van die rugbyseisoen by sy huis gehou het om die seisoen af te sluit.  Almal moes sokkies saamvat en aantrek, want ons mag nie met skoene op sy vloere gedans het nie!  In die dae van Volkspele, was hierdie absolute hoogtepunte vir ons dans-lustige tieners!

So was dit dan ook vir ons 'n besonder groot voorreg dat Paal en Marinda Pretorius saam met ons kom reünie hou het.  Hy was 'n groot gees in ons skooljare, en sekere dames het gebieg dat hulle op skool heimlik verlief was op hierdie lang meneer van ons!

Al die gaste was hoogs beïndruk met die heerlike dansmusiek van ons plaaslike Stofdraai orkes, en Wilana het ons vergas met haar pragtige sangstem.  Razzle Dazzle van Kimberley het gesorg vir die “wilder” musiek uit ons jongdae, en ons het gedans en gewikkel en geskud soos daar sekerlik nog nooit voorheen in die gewese kerksaal gedoen is nie!  Ons praat maar nie van al die pyne en stywe liggame die volgende oggend

nie.  Die spitbraai was voortreflik, en Santa en Danie moes na die ete “planne” vir hul geregte uitdeel.  Toe middernag slaan, het die musiek opgehou, maar steeds nie die gesels nie en ons het eenvoudig verder gekuier tot halfdrie!

Sondagoggend is almal kerk toe, en het FD vir ons 'n baie besielende boodskap gebring.  Dis 'n groot pluimpie vir hom dat ons almal die hele diens deur wakker gebly het ten spyte van die hele naweek se min slaap!  Na kerk het die vrouediens vir ons 'n lekker tee gegee, en almal sou daarna vertrek, maar niemand was nog uitgekuier nie.  Almal is toe na Benito se huis om saam rugby te kyk, en eers daarna het die groetery met 'n traan in die oog begin.

Saam met al die lekkerte was daar heimwee ook toe ons eer betoon het aan ons ontslape klasmaats Nols Fraenkel, Johan Smith, Blackie Swart en Willie Erasmus, asook aan al ons onderwysers wat nie meer met ons is nie.

Almal het weer veilig by hul bestemmings aangekom, en hoewel ons besluit het om voortaan elke vyf jaar reunie te hou, het die versoeke om dit maar eerder elke twee jaar te doen, reeds begin opklink en sal ons as ons die lewe hou in 2013 weer bymekaar kom.  Wat 'n voorreg, wat 'n genade om so 'n wonderlike naweek saam te kon beleef, en sommer te voel of ons weer in matriek is!

Agter van links na regs :  Willem Otto, Paal Pretorius (onderwyser), Kitty van der Vyver (Kruger), Kobus du Toit, Babsie Liebenberg (Hanekom)

Middel van links na regs :  Nettie Piek (Boning), Anso de Sousa (Scheepers), Kiewiet van Rooyen (van Wyk), Kitty Steyn (Niemann)

Voor van links na regs :  FD Hugo, Hettie van Niekerk (du Plessis), Isabel Pretorius (Groenewald), Ella de Villiers (van der Westhuizen), Rita Wessels (de Kock)

Afwesig toe die foto geneem is :  Hettie Badenhorst (Leeuwner), Marita Strydom (Fritz), Andre Badenhorst, Benito Kruger, Wynand Britz.

 

Terug na Boshof tuisblad.